Nuus - 30 Julie 2010
“Sedert Maandag 19 Julie 2010 is die e-winkel op GISA se webwerf www.gisa.org.za amptelik in werking gestel. Daarvolgens kan ‘n besoeker aan die webwerf eers gaan kyk wat op die e-winkel beskikbaar is en daarna registreer om ‘n bestelling uit te voer. Sodra die bestelling afgestuur word, ontvang GISA ‘n e-pos boodskap wat die bestelling bevestig en word ‘n faktuur terselfdertyd aan die besteller elektronies afgelewer. ‘n E-pos word dan aan die bestseller gestuur met ons bank besonderhede vir die betaling. Nadat die verskuldigde bedrag elektronies in GISA se rekening oorbetaal is, moet die besteller Gisa in kennis te stel van die betaling. Sodra bevestiging van die betaling ontvang is, word die inligting (indien individuele vanne bestel is) per e-pos aan die besteller gestuur of indien boeke en of KS’e, word dit per pos gestuur.
Kennisgewing
SAG volume 2 is huidig beskikbaar teen 'n spesiale afslagprys van R250-00. Slegs 'n beperkte aantal is beskikbaar.
Nuwe boeke by GISA
Die nuutste boeke in GISA se biblioteek op die genealogiefront is ‘n boek oor die familie BOSMAN, en een oor die CRAUSE/KRAUSE/CROUS/CROUSE-families. Ons wil graag die samestellers van die boeke van harte bedank vir die gratis kopieë wat aan GISA geskenk is: Isak Bosman van Bellville en Annelee de Wit van Pretoria. Die boeke kan direk van hulle af bestel word, inligting daaroor verskyn op die bladsy “Privaatboeke”.
SAG-reeks nou op kompakskyf beskikbaar
SA Geslagregisters Volumes 1 tot 17 is op KS geplaas en kan by GISA bestel word. Afsonderlike KS’e kan ook bestel word. Sien pryslys by e-Winkel
Vir bestellings van die buiteland, kontak asseblief info@gisa.org.za
SA Geslagregisters Volume 17 (X-Z & Add) beskikbaar sedert April 2008
GISA se laaste boek in die huidige reeks van SA Geslagregisters is pas gepubliseer. Daar is 180 families in die X tot Z-gedeelte plus 'n verdere 120 vanne opgeneem in die Addendum, wat om een of ander rede nie in die voorafgaande 16 volumes opgeneem was nie, bv. Barry, Berrington, Chadinha, Dexter, Dunn, Hickman, Pot(t)as, ens
Bo-en-behalwe die reeds beskikbare SAG boeke en KS’e en ander genealogiese werke kan die verbeterde en opgedateerde individuele vanne (A tot G) nou ook vanaf die e-winkel bestel word. Die databank met families van A tot Z bestaan uit twee dele: (a) die kleiner vanne van minder as twintig reëls per van wat gratis beskikbaar is en (b) die groter vanne wat elk meer as twintig reëls tot ‘n honderd bladsye of meer beslaan en waarvoor ‘n bestelling geplaas moet word. LW dat u allereers by die gratis gedeelte gaan kyk of die families waarin u belangstel nie dalk daar direk afgetrek kan word nie, alvorens u na die betalende gedeelte beweeg. In albei gevalle kry u ‘n skadubeeld van die eerste bladsy van die betrokke genealogie op die webwerf waaruit u ‘n idée kan vorm wat beskikbaar is.
Hierdie databank op die webwerf sal voortdurend aangevul en verbeter moet word om dit sinvol en aktueel te hou en daarvoor het ons u samwerking nodig. Derhalwe word u vriendelik gevra om nuwe bydraes in die vorm van regstellings of aanvullende inligting oor u van aan GISA te stuur asseblief by info@gisa.org.za. Byvoorbaat hartlike dank vir u samwerking”